#Erfenisdag: Afrikaans is Hemelbesem se erfenis

HemelBesem

HemelBesem

Published Sep 24, 2017

Share

HemelBesem, gebore Simon Witbooi (35), is een van die plaaslike kunstenaars wat nog Afrikaanse hip-hop doen en hy is deel van die handjievol mense wat die Afrikaanse taal aktief help bevorder. 

Sy eerste boek,  God Praat Afrikaans, is nou op die rakke en dit is ’n treffer onder liefhebbers van Afrikaans. Maar let wel, sy boek is nie in jou gewone Standaardafrikaans is nie. Dis eerder die tipe Afrikaans wat jy in die meeste bruin gemeenskappe sal hoor.

Dié Afrikaanse kunstenaar het al nege hip-hop-albums op sy kerfstok en twee daarvan het hy self deur BLM Music uitgereik.

HemelBesem het arm grootgeword in Blackheath in die suidelike voorstede van Kaapstad. 

Ná matriek is hy Worcester toe waar hy vir ’n ruk pastoor was voordat hy in 2011 besluit het om terug te keer Kaapstad toe en op sy ander passie, musiek, te fokus. Hy kon vir ’n ruk op die Afrikaanse radiostasie RSG gehoor word en is nou ook ’n aanbieder van die leefstylprogram, Pasella.

Met hierdie boek van hom bied HemelBesem jou die kans om ’n ent in sy skoene op sy pad te stap. Elke hoofstuk gee jou verder insig in sy kinderjare en die Afrikaans wat die meeste bruin mense vandag nog op die Kaapse Vlakte praat.

Die eerste keer toe ek ontmoet om ’n bietjie oor sy boek te gesels, was sy eerste woord aan my: “Aweh!” Ek kon nie help om sommer vir hom te vra waarom hy juis gekies het om sy boek in AfriKaaps te doen nie.

Stereotipering was die laaste ding op sy mind

“Afrikaans is hoe ek grootgeword het en dit was nie die gestandaardiseerde of korrekte Afrikaans nie. En ek dink ons moet weg beweeg van die stereotipering van hoe die bruin mense Afrikaans praat.”

Hy verduidelik ook dat nie alle bruin mense ’n universal tipe Afrikaans praat nie en daarom is sy boek glad nie ’n stereotipering van bruin mense nie. 

Hy sê: “Ek het lank in die Boland gewoon, in Kraaifontein met my brasse uitgehang en was ook al in Namibië. En weet jy, in elke bruin gemeenskap waar ek al was, ondervind ek dat die bruin mense in daardie woonbuurt hul eie Afrikaanse vernac praat. 

Dit is baie interessant, want die bruines in PE in die Oos-Kaap praat nie dieselfde Afrikaanse dialek soos die bruines in die Wes-Kaap nie.”

HemelBesem sê sy boek is nie AfriKaaps nie. En mense moet wegbeweeg van die negatiewe assosiasies wat gepaard gaan met die Afrikaans wat in die bruin gemeenskap gepraat word. Met sy boek daag hy mense uit om hul denke oor die taal te verander en om die taal te bewaar. 

Hy is daarom een van die mense wat voel dat instansies soos die Universiteit Stellenbosch nie hul Afrikaanse erfenis moet verloor nie. Dit is een van die min tersiêre instansies in Suid-Afrika waar studente nog hul opvoeding in Afrikaans kan geniet. En hy sê die bewaring van die Afrikaanse taal het vir hom niks met ras te doen nie. 

“Afrikaans het so ’n ryk geskiedenis vir die bruin gemeenskap. Die taal behoort nie aan die wittes nie. Die Kaapse Maleierslawe het Afrikaans onder mekaar gepraat sodat die baas hulle nie kon verstaan nie.

Afrikaans is nie ’n wit taal nie. Dit is ’n taal wat baie Suid-Afrikaners - wit, bruin en swart - praat, ja, en dis daarom dat dit deel van ons erfenis is.

“Ons taal maak ons uniek. Dit is deel van wat en wie ons almal is, en ons moet darem ’n plek hê waar ons nog onderrig in ons Afrikaanse moedertaal kan ondervang,” meen hy.

Hy sê Afrikaans is wie hy is. Elke oomblik van sy lewe tot nou toe het hy in Afrikaans ondervind.

Hy voeg by toe hy die oorgang van tjokkertjie tot man gemaak het, het hy dit in Afrikaans gedoen. Hy’t sy hart in Afrikaans verloor. Sy ma het hom in Afrikaans uitgeskel en hy het ook sy geloof in Afrikaans gevind.

Hy skram ook nie daarvan weg om oor God te praat nie

Terwyl baie mense nie sommer openlik oor hul geloof wil praat nie, is HemelBesem nie skaam om oor God te praat nie. 

“Ek dink omdat ek ’n pastoor was, sal ek nooit skaam wees om van God te praat nie. En ons het almal verskillende name vir God. Afhangende van hul denominasie, noem sommige hom Jehovah, Jesus, en vir my is dit God. En dit is daarom dat ek die naam HemelBesem het,” verduidelik hy. 

Hy sê alles omtrent sy geloof het hy in sy moedertaal geleer. En dit is waarom die taal, die Afrikaanse erfenis van miljoene mense, beskerm moet word. 

“Weet jy, ek sien uit na die dag wanneer ek by ’n kerk kan instap en die pastoor groet my met: ‘Aweh, my broer, hoe gaan dit?’ ” 

Hy sê wat geloof betref, dink hy meer mense sal dalk aanklank vind by kerkdienste as hulle so begroet word. 

Uitkyk-anties moet aanhou hul ding doen

Hy vertel met ’n stem vol nostalgie dat hy verlang na die dae toe ’n gemeenskap hul kinders saam grootgemaak het.

“Dit is een ding wat ek hoop ons gemeenskap nooit moet verloor nie. Die anties wat jou op straat dophou, veral as jy stront aanvang, want my kind is jou kind. En as kind is jy sommer net daar op die spot ge-check. En jy sou nie eens jou mond by die huis oopmaak as die antie jou ouers kom sien het nie,” lag hy.

Hy sê die uitkyk-anties en Afrikaans is die dinge waarop ons moet trots wees.

“Ek hoop my boek sal andere aanspoor om HemelBesems te word en ’n mentor vir die jongspan te wees.”

HemelBesem nooi alle Suid-Afrikaners om die Afrikaans van die bruin mense beter te leer ken. Elke hoofstuk in sy boek bevat die Afrikaanse uitdrukkings uit sy kinderjare. Hy het ook spesifiek sy hip-hop-lirieke vir elke hoofstuk geskryf.

Wat beteken Erfenisdag vir Hemelbesem?

Hy het vir IOL 'n video gemaak en verduidelik wat Erfenisdag vir hom beteken. 

***Sy boek, God Praat Afrikaans, is by Lapa-uitgewers beskikbaar. 

IOL

Related Topics: