Surrogaatskap, waar 'n eier van 'n vrou wat om mediese redes nie swanger kan raak of geboorte kan skenk nie, deur sperm van haar maat bevrug en in 'n ander vrou geplaas word om die kind te dra en te baar, was het kort gelede nuus gemaak nadat 'n tweeling vir die bekende Kaapse hartchirurg, dr. Susan Vosloo, na 'n surrogaatswangerskap gebore is.

Mev. Trudie Vosloo, dr. Vosloo se skoonsuster, het aangebied om die surrogaatma te wees en het na in vitro-bevrugting die lewe geskenk aan die twee dogtertjies, Lila en Nina, van dr. Vosloo en haar man, dr. Anton Ferreira.

Die kwessie van surrogaatmoederskap bly omstrede, maar dit is darem deesdae meer algemeen as byvoorbeeld dertien jaar gelede toe Suid-Afrikaners regop gesit het toe die Ferreira-Jorge-drieling van Tzaneen gebore is.

Paula, José en David was die wêreld se eerste proefbuisdrieling. Hulle geboorte het vir nog groter opslae gesorg omdat hulle ouma, mev. Pat Anthony, hulle in die wêreld gebring het.

Sles liefdesdaad

Prof. Murray Janson, pastorale sielkundige van Pretoria, sê die ideaal sal wees dat 'n vrou wat glad nie kinders kan hê nie, daarin berus en vrede daarmee maak daarmee dat dit nie vir haar beskore is nie.

''Dié situasie sal waarskynlik die minste probleme tot gevolg hê, maar dit is ook nie noodwendig probleemloos nie."

Volgens prof. Janson kan surrogaatmoederskap nie summier ''afgeskiet'' word nie. ''Dit is nog relatief nuut en dit sal nie regverdig wees om te sê dit is net boos nie.''

Prof. Janson sê dat dit selfs in Bybelse tye gebeur het dat 'n vrou wat nie self 'n kind kon hê nie, volgens die wette van Gamorabi op 'n ''legitieme manier'' haar ''eie'' kind gekry het wat haar diensmeisie of slavin vir haar in die wêreld gebring het.

Die bekendste voorbeeld is waarskynlik dié van Abraham en Sara waar laasgenoemde haar slavin, Hagar, gebruik het om vir haar man 'n seun, Ismael, te baar.

Volgens die wette wat in die Ou Testament gegeld het, was dit heeltemal wettig en aanvaarbaar. Die stelsel was baie patriargaal en een van die belangrikste oorwegings was dat 'n man se familielyn voortgesit moes word.

Prof. Janson sê daar is egter baie areas wat die hele kwessie van surrogaatmoederskap moeilik maak. Een van die argumente wat gereeld gehoor word, maar waarmee prof. Janson glad nie saamstem nie, is dat die biologiese ma nie die surrogaatbaba se ''regte'' ma is nie en dat dit later tot talle verhoudingsprobleme later kan lei.

''My siening is dat daar 'n bindingsproses tussen die ma en kind moet plaasvind en dat dit nie iets is wat vanselfsprekend gebeur nie. 'n Biologiese ma moet, net soos 'n aan-neem-ma, ook haar nuwe baba leer ken en aan hom of haar vasgroei.''

Volgens prof. Janson is een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word wanneer partye finaal op surrogaatmoederskap besluit, die volwassenheid van almal.

''Die surrogaatma moet besef dat sy doodgewoon die draer van die baba is en dat sy nie agterna 'n klomp eise kan stel nie. Sy moet volwasse genoeg wees om te besef dat as haar rol klaar is, sy die baba moet afgee.''

Prof. Janson sê die surrogaatma se gevoelens oor dit wat sy doen en teenoor die baba kan egter beïnvloed word as sy byvoorbeeld gedurende die swangerskap siek is en probleme ondervind. ''Sy kan dalk voel sy moet soveel deurmaak dat dit uiteindelik vir haar moeiliker is om die baba af te staan.''

Prof. Janson meen die ideaal sal wees as die surrogaatma en die nuwe ouers voor die tyd berading kan kry sodat hulle almal vooraf deur moontlike probleme kan werk.

Nog 'n kwessie wat hy dink die nuwe ouers ook vir hulself moet uitklaar, is of hulle die kind gaan vertel dat hy 'n surrogaatbaba is.

''Ek glo dit is in almal se belang om, sodra die kind oud genoeg is, vir hom die waarheid te vertel. Die moontlikheid is altyd daar dat hy of sy elders kan uitvind en dit kan tot groot hartseer lei.''

Prof. Janson is gekant teen die gedagte dat surrogaatma's geldelik vergoed moet word om vir 'n egpaar 'n baba te dra. ''Dit moet nooit as 'n soort van werk gesien word nie, maar eerder as 'n liefdesgawe.''

Motiewe

Prof. Etienne de Villiers, dosent in Christelike etiek in die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), sê daar is dikwels vrae rondom die motiewe van mense wat op surrogaatmoederskap besluit.

''Die algemeenste is hoekom mense voel hulle moet ten alle koste 'n kind van hul eie hê. Dit laat die vraag onstaan of hulle hulself nie verhef tot 'n hoër waarde en dit as 'n soort van reg beskou om 'n eie kind te hê nie.''

Prof. De Villiers meen dit sal die beste wees as ouers aanvaar as hulle nie hul eie kinders kan hê nie en dat hulle ''wyer'' moet dink as "'n kind wat geneties aan hulle verwant is''.

''Wat van die talle weeskinders en behoeftige kinders wie se lot hulle moontlik kon verlig het en vir wie hulle dalk iets kon beteken het?''

Prof. De Villiers bevraagteken ook die motiewe van ouers wat bereid is om ''derduisende'' rande te betaal om 'n kind te hê wat geneties aan hulle verbind is.

''Die vraag is of van dié ouers nie só obsessief is om hul eie kinders te hê dat hulle perspektief verloor nie?''

Prof. De Villiers wonder ook of die betrokke partye altyd die ''emosionele koste'' van surrogaatmoederskap in aanmerking neem wat tot spanning en verdere verhoudingsprobleme kan lei. Hy sê dit is altyd ''lastig'' waar 'n derde persoon in 'n verhouding betrokke is.

Hy meen die tegnologie maak dit vandag vir die mens moontlik om baie dinge te doen, maar ''moet ons onsself nie afvra waar ons die grense moet trek nie?''

Desperate "ma's"

Dr. Johan van Schouwenburg van die Medfem-kliniek in Sandton, waar omtrent een surrogaatgeval per maand hanteer word, sê ouerpare wat by hom uitkom, is desperaat. ''Dit is nie hulle eerste keuse nie, maar die laaste uitweg om 'n kind van hul eie te hê."

Volgens dr. Van Schouwenburg is die vrou wat die baba dra ingevolge huidige wetgewing die wetlike ouer en moet sy die kind afteken.

Ingevolge voorgestelde wetgewing moet kontrakte voor die swangerskap geteken word, wat vir 'n jaar geldig sal wees en waarin die surrogaatma onderneem om die kind af te gee.

Volgens dr. Van Schouwenburg gebeur dit tans net dat die partye 'n ooreenkoms met mekaar aangaan.

Hy meen wetgewing sal talle probleme uitskakel, soos dat 'n surrogaatma byvoorbeeld weier om die baba prys te gee of dat sy die ouers met talle eise manipuleer.

Dr. Van Schouwenburg sê streng riglyne is neergelê vir surrogaatmoederskap. Slegs vroue vir wie swangerskap fisies onmoontlik is, kwalifiseer en alleenlik nadat kliniese sielkundiges die paartjie en die surrogaatma evalueer het.

Volgens dr. Van Schouwenburg is die beste surrogaatma 'n goeie vriendin of familielid van die egpaar wie se lewenswyse aan hulle bekend is.

Hy is skepties oor ''vreemde'' surrogaatma's wat by 'n fertiliteitskliniek aanklop en hul ''dienste'' aanbied.

Hy voel ook baie sterk daaroor dat surrogaatma's se ''motiewe suiwer moet wees''. Hy ondersteun die gedagte dat die egpaar betaal vir ''redelike uitgawes'' wat die surrogaatma mag hê, maar meen dat dit nie ''iets is waaruit sy geld moet probeer maak nie''.

Reg om self te besluit

Prof. Christina Landman, teoloog van Unisa, meen dit is reg dat vroue self besluite oor hul vrugbaarheid en liggame moet kan neem. Sy sê 'n mens moet sensitief wees en begrip hê vir vroue se gevoelens van moederlikheid en wat baie graag hul eie kinders wil hê.

Sy meen surrogaatmoederskap is aanvaarbaar waar vroue mekaar se menswaardigheid in ag neem.

''Aan die ander kant moet vroue ook besef dat die wêreld nie soveel kinders nodig het nie en dat hulle ook 'n ekologiese verantwoordelikheid het. Die mens se bestaan moenie net daarom draai om kinders in die wêreld te bring nie.''

Familielid of vriendin

Dr. Lanette Hattingh, kliniese sielkundige van Johannesburg, meen ook die belangrikste oorweging is dat al die partye se motiewe suiwer moet wees.

Sy meen dat, as 'n egpaar bitter graag 'n kind wil hê en alles medies moontlik sonder sukses gedoen is om hulle te help, is surrogaatmoederskap 'n opsie.

Sy sê uit 'n sielkundige oogpunt kan surrogaatmoederskap werk as die surrogaatma iemand baie naby aan die biologiese ma is soos 'n suster, ma, of selfs beste vriendin.

''Só kan die ma meer betrokke wees by die swangerskap en dit as't ware saam met die surrogaatma beleef.''

Volgens haar kan die positiewe belewing deur die ma en surrogaatma hulle albei help om die situasie beter te hanteer en kan dit tot minder trauma lei wanneer die surrogaatma die baba moet afgee.

Dr. Hattingh is gekant teen surrogaatma's wat hul ''dienste'' adverteer en daaruit probeer geld maak.

Volgens haar is dit baie belangrik dat die partye voor en na die tyd sielkundige berading kry.

Dr. Hattingh sê dat, wanneer ouers in ag neem hoe traumaties en emosioneel surrogaatskap kan wees, moet hulle hulself afvra of hulle regtig bereid is om daardeur te gaan en of dit uiteindelik nie vir hulle beter gaan wees om 'n kind aan te neem nie.